‘n Gebed vir Leiding

Wat of wie lei jou?

Dink aan ‘n besluit wat jy onlangs geneem het. Miskien was dit die keuse wat om vandag aan te trek. Miskien was dit die besluit of jy die nuwe betrekking sal aanvaar. Of miskien was dit bloot die besluit om vir iemand wat jy nie goed ken nie “hallo” te sê. Die gemiddelde persoon neem daagliks duisende besluite.

Alhoewel ons nie ewe veel waarde aan ons keuses heg nie, dra elke keuse by tot die rigting wat ons lewens inneem. Die goeie nuus is — ons hoef nie alleen besluite te neem nie.

God se Heilige Gees is by almal wat in Jesus glo en bemagtig hulle om so te leef dat Hy geëer word. Dink dus nou aan ‘n besluit wat jy moet neem, en wanneer jy gereed is, vra die Heilige Gees om jou te lei.


‘n Gebed vir Leiding

Heilige Gees,

U ken my hart. U verstaan my diepste begeertes en behoeftes, en U ken ook elke voorneme wat ek het. U ken my beter as wat ek myself ken. Ek kan nêrens gaan om van U teenwoordigheid te ontvlug nie, en ek kan niks vir U wegsteek nie!

Dis hoekom ek, op hierdie oomblik, vra dat U aan my u Goddelike wysheid en leiding sal gee.

Ek weet nie altyd waarvoor om te bid nie. My siel is tam en ek is moeg. Ek bekommer my dikwels of ek die regte besluit neem, want ek wil ‘n lewe lei wat U eer.

Al voel dit of ek nie vorentoe kan beweeg of sien wat wag nie, sien U my. U ken my ook. Lei my dus asseblief. Wys my die paaie wat na oorvloedige lewe lei, en oortuig my wanneer ek in die versoeking kom om van U af te dwaal.

Terwyl U my lei, herstel my ook. Ek sal te alle tye op U hoop, want U ken alle dinge, en by U bly ek behoue. U is my krag in tye van nood en U het my verlossing geword.

Hou my dus naby U, Here, en leer my hoe om waardig te wandel volgens die roeping wat U my gegee het. Rig my treë terwyl U oor my lewe die wag hou, want ek wil U verheerlik.

In die Naam van Jesus,

Amen.

Stoor hierdie Gebed

Share this post:

Wie is die Heilige Gees?

Duif

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.”

GENESIS 1:1-2

Stel jou voor God se Gees sweef oor die aarde. Alles is donker en sonder vorm, totdat God hierdie woorde uitspreek: “Laat daar lig wees.” Oombliklik verander alles. Die lig breek deur die duisternis en wat onsigbaar was is nou duidelik sigbaar. Dit is wat God se Gees doen. Hy is altyd naby, by ons, en bring lig waar daar eens op ‘n tyd duisternis was.

Hy was by Moses toe hy die Israeliete deur die woestyn gelei het. Hy was by Dawid om hom te bemagtig om Goliat te verslaan. Hy was by die profeet Jesaja om hom die woorde te gee om oor Jesus se koms te profeteer. Hy was by Jesus om Hom as God se Seun te onderskei. God se Heilige Gees is nog steeds hier. Nou kan enigeen wat in Jesus glo die innige teenwoordigheid van die Heilige Gees ervaar.

Wat beteken dit nou eintlik? Hoe is dit om die Heilige Gees te ervaar?

Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.”

HANDELINGE 2: 38

Regdeur die Skrif is daar bewyse dat die Heilige Gees sekere mense bemagtig het om deel te wees van God se planne en ander aan sy doel te herinner. Jesus se offerdood en wonderbaarlike opstanding het egter alles verander. Vir die eerste keer in die geskiedenis kon enigeen wat verkies om in Jesus te glo, die Heilige Gees ontvang.

“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

JOHANNES 14:16-17

Die gawe van die Heilige Gees is nog steeds beskikbaar vir elkeen wat in Jesus glo. Wanneer jy hierdie gawe ontvang, bemagtig God jou om so te lewe dat jy Hom eer en sy karakter weerspieël. In wese is dit so dat, wanneer ons nader aan God kom, raak ons meer bewus van sy teenwoordigheid en krag in ons lewens. Dit beteken dat ons selfs in ons moeilikste tye nooit werklik alleen is nie. Die Heilige Gees is nader aan jou as jou eie asem.

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.

ROMEINE 8:26

Ongeag jou omstandighede of agtergrond, as jy aan Christus behoort is sy Heilige Gees altyd by jou om jou te bemagtig en te versterk, en ook om namens jou te bid. Hy verstaan jou behoeftes omdat Hy jou ken.

Omdat God jou ken is Hy altyd namens jou aan die werk tot jou voordeel en sy eer. Dit beteken nie dat jy geen lyding en moeilikhede sal ondervind nie. Dit beteken dat God, deur die krag van sy Heilige Gees, te midde van daardie beproewing, jou nader aan Homself sal trek.

Selfs wanneer jy uiters swak is, is daar niks wat God nie deur die Heilige Gees wat in jou woon, kan doen nie.

“Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee. … Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.”

Esegiël 36: 26-27

Jy is nooit ver van God se teenwoordigheid af nie. Wanneer jy besluit om Jesus as die opgestane Seun van God te aanvaar, kry jy al die voordele wat daarmee saamgaan — insluitende die Heilige Gees wat altyd by jou is.

Dink ‘n oomblik diep na oor die volgende vrae:

  • Glo ek dat Jesus God is?

  • Het ek Jesus gevra om my lewe te verander?

As jy op altwee vrae “ja” kan antwoord, het jy toegang tot God se Heilige Gees. Om toegang tot God te hê en om saam met Hom deur die lewe te gaan, is egter twee verskillende goed.

Wanneer ons God in liefde gehoorsaam en Jesus as Here oor ons lewens erken, laat ons die Heilige Gees toe om vrylik in ons lewens te werk. Daarom moet jy God elke dag doelbewus opsoek wanneer jy ‘n Geesvervulde lewe lei.

Dis deur doelbewuste tyd saam met God wat jy ontdek hoe om Hom lief te hê, ander lief te hê en dissipels te maak. Jy word vertroud met die krag, teenwoordigheid en outoriteit van die Heilige Gees namate jy God se karakter beter leer ken. Dit is ook deur die krag van die Heilige Gees dat jy bewus word hoe jou dade en keuses jou verhouding met God en ander mense beïnvloed.

“’Die Here’ beteken hier ‘die Gees’, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

2 KORINTIËRS 3:17-18

In werklikheid is die Heilige Gees beskikbaar vir enigeen wat ‘n volgeling van Christus word en Hy wil jou bemagtig om so te lewe dat jy God se roeping vir jou lewe waardig is.

Indien jy wil uitvind hoe om ‘n Geesvervulde lewe te lei — ‘n lewe wat God eer en mense inspireer — maak tyd om Galasiërs 5:22-23 te lees. Wanneer jy dan gereed is, bid deur die vrug van die Gees in hierdie webjoernaal-inskrywing.

Bid deur die vrug van die Gees

FacebookDeel op Facebook

TwitterDeel op Twitter

E-posDeel per e-pos

Share this post:

Nege gebede wat jou help om die vrug van die Gees te ontwikkel

Oranje

As ons deur die Gees leef, moet ons ook tred hou met die Gees.

GALASIËRS 5:25

Indien jy jouself as ‘n volgeling van Jesus beskou, is die Heilige Gees altyd by jou, om jou te help om ‘n lewe te lei wat God eer en mense bemoedig. Alhoewel ons egter te alle tye toegang tot die Heilige Gees het, moet ons God elke dag doelbewus soek om ‘n Geesvervulde lewe te kan lei.

As ons die Gees van God toelaat om ons te oortuig, uit te daag en te verander, sal Hy verander hoe ons dink en optree.

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”

GALASIËRS 5:22-23

Die “vrugte” van die Gees is uniek maar tog — is almal ook onderling verbind en bewys dat ons God toelaat om elke gedeelte van ons lewens te vorm.

Die keuses wat jy maak sal altyd weerspieël wat jy toelaat om jou hart te rig en te lei. Gaan lees sommer nou weer Galasiërs 5:22-23 en vra die Heilige Gees om aan jou te wys watter gedeeltes in jou lewe Hy moet herskep. Wanneer jy gereed is, bid dan die volgende gebed saam met ons.

‘n Gebed om Liefde

Vader, dankie dat U my gewys het hoe ware liefde daar uitsien. Maak my asseblief volmaak in U liefde deur aan my die gedeeltes van my lewe te wys wat nie in ooreenstemming met u Heilige Gees is nie. Wys my waar ek selfsugtig is, my eie belange bevorder en maklik kwaad word, sodat ek daardie dinge aan U kan oorgee en U toelaat om daardie eienskappe deur u onbaatsugtige liefde te vervang. Herskep my in iemand wat ander liefhet net soos U my liefhet. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Vreugde

Vader, dankie dat U my voortdurende toegang tot u teenwoordigheid gee. Omdat U altyd by my is, kan ek te alle tye ware vreugde ervaar. Alhoewel die vreugde wat U gee nie van my omstandighede afhanklik is nie, leef ek nie altyd ‘n lewe wat deur vreugde gekenmerk word nie. In plaas daarvan om U te vertrou, laat ek my probleme alte dikwels toe om my reaksies te dikteer. Vergewe my asseblief! Vul my met u vreugde en vrede, sodat ek deur die krag van u Heilige Gees te alle tye vol hoop kan wees. Help my om ‘n lewe te lei wat gekenmerk word deur onoorwinlike vreugde. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed vir Vrede

Vader, dikwels word ek oorweldig deur omstandighede wat buite my beheer is, en my aandag word maklik afgelei deur dinge wat nie saak maak nie. Vergewe my dat ek nie deurgaans op U vertrou nie. Selfs as ek voor moeilike situasies te staan kom, is U steeds by my. U is die Skepper van vrede, en ek kan tot u vredevolle teenwoordigheid toegang verkry wanneer ek tot U nader. In plaas daarvan om u Heilige Gees stil te maak wanneer ek angstig of moedeloos begin voel, help my om eerder in my hart en gedagtes ruimte te maak om die vrede te ervaar wat U vryelik gee. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Geduld

Heilige Gees, skep in my ‘n rein hart wat die beste in ander soek. Help my om empatie en medelye aan almal te betoon, en om dit met sagmoedigheid en respek te doen. As mense of omstandighede nie aan my verwagtinge voldoen nie, bemagtig my dan om genade en begrip te bewys. Help my om my omstandighede vanuit u perspektief te sien, sodat ek my te alle tye kan verheug en geduld kan betoon wanneer dit nodig is. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Vriendelikheid

Vader, dankie dat U voortdurend u standvastige liefde en genade aan my betoon. U is so goed! Here, ek word maklik kwaad, voel seergemaak of neem aanstoot. Verander asseblief hoe ek dink en optree. Dit is deur u Gees wat ek vergewe en bemagtig word. Ek nooi U dus vandag uit om my te lei, te rig en te wys hoe om vriendelikheid aan ander te betoon soos U vriendelikheid aan my betoon het. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Goedhartigheid

Heilige Gees, ek kan nie van u teenwoordigheid ontsnap nie! U sal nie van my afstand doen nie, want U is te goedhartig om my te verlaat in die toestand wat U my gevind het. U lei my, gee my raad en wys my die weg wat na die lewe lei. Maak my vandag meer bewus van u goedhartigheid, sodat ek u goedhartigheid met ander kan deel. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Selfbeheersing

Heilige Gees, mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees! Ek wil U nie bedroef deur ‘n lewe te lei wat onwaardig is vir die roeping wat U in my lewe geplaas het nie. In plaas daarvan wil ek ‘n gedissiplineerde, bedagsame lewe lei, want ek weet dat dit U eer. As ek dus in die versoeking kom om toe te gee aan woede, selfsug of trots, help my om ander hoër te ag, en laat my toe om dit in nederigheid en genade te doen. Ek gee beheer oor my lewe aan U oor. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Getrouheid

Vader, op die regte tyd maak U alles pragtig. Niks is vir U te moeilik om te bewerkstellig nie! U is getrou om u beloftes na te kom. Tog vergeet ek dit dikwels en raak moedeloos as dit lyk asof my omstandighede nie verander nie. In daardie oomblikke is dit maklik om te vergeet dat U nie met u werk klaar is nie. Verander asseblief deur u Heilige Gees hoe ek dink en optree. As ek begin moeg word, help my om te onthou dat U by my is, U is getrou en U het my alles gegee wat ek nodig het om vandag ‘n geloofsvervulde lewe te lei. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Nederigheid

Heilige Gees, help my om noukeurig aandag te skenk aan die maniere waarop U my by die naam roep en my nader aan U bring. Terwyl U dit doen, wys my hoe om op ‘n wyse te leef wat die roeping waardig is wat U aan my gegee het. Help my om niks uit selfsugtige ambisie te doen nie, maar wys my eerder hoe om ander hoër te ag as myself. In plaas daarvan om dadelik die foute wat ek by ander mense sien, reg te stel, help my om eers my besorgdhede na U toe bring en U toe te laat om my reaksie te rig. Laat die gesprekke wat ek met ander voer, gevul wees met nederigheid en respek, sodat niks in my lewe mense daarvan weerhou om U deur my te sien nie. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

Het hierdie gebede jou bemoedig of geïnspireer? Stoor ‘n paar in jou YouVersion-gebedslys. Gaan gedurende die week voort om doelbewus deur gebed nader aan God te kom, en laat sy Heilige Gees toe om jou lewenswyse te vorm.

FacebookDeel op Facebook

TwitterDeel op Twitter

E-posDeel per e-pos

Laai Die YouVersion Bybeltoep

Share this post:

Psalms 23: Die Here is my herder

1  
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

2  
Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.

3  
Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

4  
Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

5  
U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.

6  
U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Psalm 23 in Afrikaans

Psalm 23 in English

Share this post:

Leef bemagtig.

Die Heilige Gees help ons in ons swakheid. Ons weet byvoorbeeld nie waarvoor God wil hê dat ons moet bid nie. Maar die Heilige Gees bid vir ons met versugtinge wat nie in woorde uitgedruk kan word nie.

ROMEINE 8:26

Wat doen God in jou lewe?

Dink ‘n oomblik na oor wat God onlangs in jou lewe gedoen het. Dink aan die situasies wat Hy jou gehelp het om te verduur, die uitdagings wat julle saam oorkom het en die oorwinnings wat jy as gevolg van Hom ervaar het.

As jy aan Christus behoort, maak jou omstandighede en agtergrond nie saak nie, want die Heilige Gees is altyd by jou om jou te bemagtig en te versterk. Daar is niks wat God nie deur jou kan doen as sy Heilige Gees in jou woon nie.

Vra vir God om nou vir jou te wys hoe sy Heilige Gees in jou lewe aan die werk is. Hier is ‘n paar leesplanne wat jou daarmee kan help:

Nog leesplanne

Share this post: