‘n Gebed vir Leiding

Wat of wie lei jou?

Dink aan ‘n besluit wat jy onlangs geneem het. Miskien was dit die keuse wat om vandag aan te trek. Miskien was dit die besluit of jy die nuwe betrekking sal aanvaar. Of miskien was dit bloot die besluit om vir iemand wat jy nie goed ken nie “hallo” te sê. Die gemiddelde persoon neem daagliks duisende besluite.

Alhoewel ons nie ewe veel waarde aan ons keuses heg nie, dra elke keuse by tot die rigting wat ons lewens inneem. Die goeie nuus is — ons hoef nie alleen besluite te neem nie.

God se Heilige Gees is by almal wat in Jesus glo en bemagtig hulle om so te leef dat Hy geëer word. Dink dus nou aan ‘n besluit wat jy moet neem, en wanneer jy gereed is, vra die Heilige Gees om jou te lei.


‘n Gebed vir Leiding

Heilige Gees,

U ken my hart. U verstaan my diepste begeertes en behoeftes, en U ken ook elke voorneme wat ek het. U ken my beter as wat ek myself ken. Ek kan nêrens gaan om van U teenwoordigheid te ontvlug nie, en ek kan niks vir U wegsteek nie!

Dis hoekom ek, op hierdie oomblik, vra dat U aan my u Goddelike wysheid en leiding sal gee.

Ek weet nie altyd waarvoor om te bid nie. My siel is tam en ek is moeg. Ek bekommer my dikwels of ek die regte besluit neem, want ek wil ‘n lewe lei wat U eer.

Al voel dit of ek nie vorentoe kan beweeg of sien wat wag nie, sien U my. U ken my ook. Lei my dus asseblief. Wys my die paaie wat na oorvloedige lewe lei, en oortuig my wanneer ek in die versoeking kom om van U af te dwaal.

Terwyl U my lei, herstel my ook. Ek sal te alle tye op U hoop, want U ken alle dinge, en by U bly ek behoue. U is my krag in tye van nood en U het my verlossing geword.

Hou my dus naby U, Here, en leer my hoe om waardig te wandel volgens die roeping wat U my gegee het. Rig my treë terwyl U oor my lewe die wag hou, want ek wil U verheerlik.

In die Naam van Jesus,

Amen.

Stoor hierdie Gebed

Nege gebede wat jou help om die vrug van die Gees te ontwikkel

Oranje

As ons deur die Gees leef, moet ons ook tred hou met die Gees.

GALASIËRS 5:25

Indien jy jouself as ‘n volgeling van Jesus beskou, is die Heilige Gees altyd by jou, om jou te help om ‘n lewe te lei wat God eer en mense bemoedig. Alhoewel ons egter te alle tye toegang tot die Heilige Gees het, moet ons God elke dag doelbewus soek om ‘n Geesvervulde lewe te kan lei.

As ons die Gees van God toelaat om ons te oortuig, uit te daag en te verander, sal Hy verander hoe ons dink en optree.

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”

GALASIËRS 5:22-23

Die “vrugte” van die Gees is uniek maar tog — is almal ook onderling verbind en bewys dat ons God toelaat om elke gedeelte van ons lewens te vorm.

Die keuses wat jy maak sal altyd weerspieël wat jy toelaat om jou hart te rig en te lei. Gaan lees sommer nou weer Galasiërs 5:22-23 en vra die Heilige Gees om aan jou te wys watter gedeeltes in jou lewe Hy moet herskep. Wanneer jy gereed is, bid dan die volgende gebed saam met ons.

‘n Gebed om Liefde

Vader, dankie dat U my gewys het hoe ware liefde daar uitsien. Maak my asseblief volmaak in U liefde deur aan my die gedeeltes van my lewe te wys wat nie in ooreenstemming met u Heilige Gees is nie. Wys my waar ek selfsugtig is, my eie belange bevorder en maklik kwaad word, sodat ek daardie dinge aan U kan oorgee en U toelaat om daardie eienskappe deur u onbaatsugtige liefde te vervang. Herskep my in iemand wat ander liefhet net soos U my liefhet. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Vreugde

Vader, dankie dat U my voortdurende toegang tot u teenwoordigheid gee. Omdat U altyd by my is, kan ek te alle tye ware vreugde ervaar. Alhoewel die vreugde wat U gee nie van my omstandighede afhanklik is nie, leef ek nie altyd ‘n lewe wat deur vreugde gekenmerk word nie. In plaas daarvan om U te vertrou, laat ek my probleme alte dikwels toe om my reaksies te dikteer. Vergewe my asseblief! Vul my met u vreugde en vrede, sodat ek deur die krag van u Heilige Gees te alle tye vol hoop kan wees. Help my om ‘n lewe te lei wat gekenmerk word deur onoorwinlike vreugde. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed vir Vrede

Vader, dikwels word ek oorweldig deur omstandighede wat buite my beheer is, en my aandag word maklik afgelei deur dinge wat nie saak maak nie. Vergewe my dat ek nie deurgaans op U vertrou nie. Selfs as ek voor moeilike situasies te staan kom, is U steeds by my. U is die Skepper van vrede, en ek kan tot u vredevolle teenwoordigheid toegang verkry wanneer ek tot U nader. In plaas daarvan om u Heilige Gees stil te maak wanneer ek angstig of moedeloos begin voel, help my om eerder in my hart en gedagtes ruimte te maak om die vrede te ervaar wat U vryelik gee. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Geduld

Heilige Gees, skep in my ‘n rein hart wat die beste in ander soek. Help my om empatie en medelye aan almal te betoon, en om dit met sagmoedigheid en respek te doen. As mense of omstandighede nie aan my verwagtinge voldoen nie, bemagtig my dan om genade en begrip te bewys. Help my om my omstandighede vanuit u perspektief te sien, sodat ek my te alle tye kan verheug en geduld kan betoon wanneer dit nodig is. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Vriendelikheid

Vader, dankie dat U voortdurend u standvastige liefde en genade aan my betoon. U is so goed! Here, ek word maklik kwaad, voel seergemaak of neem aanstoot. Verander asseblief hoe ek dink en optree. Dit is deur u Gees wat ek vergewe en bemagtig word. Ek nooi U dus vandag uit om my te lei, te rig en te wys hoe om vriendelikheid aan ander te betoon soos U vriendelikheid aan my betoon het. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Goedhartigheid

Heilige Gees, ek kan nie van u teenwoordigheid ontsnap nie! U sal nie van my afstand doen nie, want U is te goedhartig om my te verlaat in die toestand wat U my gevind het. U lei my, gee my raad en wys my die weg wat na die lewe lei. Maak my vandag meer bewus van u goedhartigheid, sodat ek u goedhartigheid met ander kan deel. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Selfbeheersing

Heilige Gees, mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees! Ek wil U nie bedroef deur ‘n lewe te lei wat onwaardig is vir die roeping wat U in my lewe geplaas het nie. In plaas daarvan wil ek ‘n gedissiplineerde, bedagsame lewe lei, want ek weet dat dit U eer. As ek dus in die versoeking kom om toe te gee aan woede, selfsug of trots, help my om ander hoër te ag, en laat my toe om dit in nederigheid en genade te doen. Ek gee beheer oor my lewe aan U oor. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Getrouheid

Vader, op die regte tyd maak U alles pragtig. Niks is vir U te moeilik om te bewerkstellig nie! U is getrou om u beloftes na te kom. Tog vergeet ek dit dikwels en raak moedeloos as dit lyk asof my omstandighede nie verander nie. In daardie oomblikke is dit maklik om te vergeet dat U nie met u werk klaar is nie. Verander asseblief deur u Heilige Gees hoe ek dink en optree. As ek begin moeg word, help my om te onthou dat U by my is, U is getrou en U het my alles gegee wat ek nodig het om vandag ‘n geloofsvervulde lewe te lei. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Nederigheid

Heilige Gees, help my om noukeurig aandag te skenk aan die maniere waarop U my by die naam roep en my nader aan U bring. Terwyl U dit doen, wys my hoe om op ‘n wyse te leef wat die roeping waardig is wat U aan my gegee het. Help my om niks uit selfsugtige ambisie te doen nie, maar wys my eerder hoe om ander hoër te ag as myself. In plaas daarvan om dadelik die foute wat ek by ander mense sien, reg te stel, help my om eers my besorgdhede na U toe bring en U toe te laat om my reaksie te rig. Laat die gesprekke wat ek met ander voer, gevul wees met nederigheid en respek, sodat niks in my lewe mense daarvan weerhou om U deur my te sien nie. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

Het hierdie gebede jou bemoedig of geïnspireer? Stoor ‘n paar in jou YouVersion-gebedslys. Gaan gedurende die week voort om doelbewus deur gebed nader aan God te kom, en laat sy Heilige Gees toe om jou lewenswyse te vorm.

FacebookDeel op Facebook

TwitterDeel op Twitter

E-posDeel per e-pos

Laai Die YouVersion Bybeltoep

Hoe skep jy ‘n gebedsgewoonte? Doen die volgende:

Persoon wat bid

Maak Gebed ‘n deel van jou daaglikse lewe.

Daar is niks in jou lewe wat vir God te groot of te klein is om te hanteer nie. Tog moet ons soms herinner word dat ons enige tyd met Hom kan praat. Gebedsherinneringe is ideaal vir die tye wanneer jy ‘n bietjie aanmoediging daarvoor nodig het.

Gaan net na jou “Push” Kennisgewing Instellings, druk op “Herinner my om te bid”. Dan kan jy die tyd instel wanneer jy jou daaglikse herinnering wil ontvang.

Is jy onseker waaroor om te bid? Begin hier:

Oseaan

‘n Gebed vir Vrede

Dankie Vader dat U vir ons omgee. U weet van alles wat ons swaar belas as gevolg van kommer, angs of vrees. Waak asseblief nou met u vrede oor ons harte en denke.

Help ons om ons denke op U en op u Gees te rig. Dankie dat U belowe het om aan ons lewe en vrede te gee. Ons kan rus … omdat ons by U veilig is.

GebedsikoonBid


Blomme

‘n Gebed vir Genesing

Vader, u Woord sê dat U die mense antwoord wat u Naam aanroep en U verlos hulle. Ons vra nou dat U die siekes en diegene wat seer het sal genees. Ongeag of u genesing vandag of eers oor 10 jaar plaasvind, sal ons aanhou om U te prys, selfs terwyl ons op antwoorde wag.

GebedsikoonBid


Dammetjie in die woud

‘n Gebed vir Eensgesindheid

Dankie Jesus, dat U die wêreld oorwin het. As gevolg daarvan, kan ons in eensgesindheid met U wees. Help ons om alles te sien wat U om ons doen. Trek ons nader aan U en help ons om na die belange van ander om te sien.

Laat u koninkryk kom, op die aarde, net soos in die hemel. Verenig ons dus in doel sodat niks mense wat U soek, kan verhinder om in U te glo nie.

GebedsikoonBid


Stel Gebedsherinneringe Op

Waarheen neem jou gedagtes jou?

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

ROMEINE 12:2

‘n Gebed om jou denke te vernuwe

“Vader, soms as ek na die wêreld om my kyk, voel ek oorweldig deur angs en begin my gedagtes maal. Help my asseblief. Ek het u hulp nodig om die manier waarop ek dink, te verander.

U gedagtes is verhewe bo myne en u weë is beter as myne. U gee hoop aan dié sonder hoop en krag aan die wat swak is. U alleen kan my denke vernuwe en my aan my doel herinner.

Help my dus vandag om elke gedagte gevange te neem, terwyl ek al my bekommernisse vir U gee. Herinner my dat U met my is en dat U sal aanhou om my te onderrig en te lei.

Gee my raad terwyl ek u Woord oordink en help my om u waarhede in my lewe toe te pas. Gee my die krag wat ek nodig het om te doen wat reg is en help my om U altyd, bo alles te volg.”

In die Naam van Jesus, amen.

Stoor Gebed

Psalm 91 – U is my toevlug en my veilige vesting

1  
Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet

2  
hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”

3  
Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte.

4  
Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.

5  
Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag

6  
vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.

7  
Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.

8  
Met jou eie oë sal jy sien hoe die goddelose gestraf word.

9  
Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer

10  
sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie.

11  
Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.

12  
Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie.

13  
Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal jy doodtrap.

14  
“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.

15  
Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.

16  
‘n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Psalm 91 in Afrikaans