Nege gebede wat jou help om die vrug van die Gees te ontwikkel

Oranje

As ons deur die Gees leef, moet ons ook tred hou met die Gees.

GALASIËRS 5:25

Indien jy jouself as ‘n volgeling van Jesus beskou, is die Heilige Gees altyd by jou, om jou te help om ‘n lewe te lei wat God eer en mense bemoedig. Alhoewel ons egter te alle tye toegang tot die Heilige Gees het, moet ons God elke dag doelbewus soek om ‘n Geesvervulde lewe te kan lei.

As ons die Gees van God toelaat om ons te oortuig, uit te daag en te verander, sal Hy verander hoe ons dink en optree.

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”

GALASIËRS 5:22-23

Die “vrugte” van die Gees is uniek maar tog — is almal ook onderling verbind en bewys dat ons God toelaat om elke gedeelte van ons lewens te vorm.

Die keuses wat jy maak sal altyd weerspieël wat jy toelaat om jou hart te rig en te lei. Gaan lees sommer nou weer Galasiërs 5:22-23 en vra die Heilige Gees om aan jou te wys watter gedeeltes in jou lewe Hy moet herskep. Wanneer jy gereed is, bid dan die volgende gebed saam met ons.

‘n Gebed om Liefde

Vader, dankie dat U my gewys het hoe ware liefde daar uitsien. Maak my asseblief volmaak in U liefde deur aan my die gedeeltes van my lewe te wys wat nie in ooreenstemming met u Heilige Gees is nie. Wys my waar ek selfsugtig is, my eie belange bevorder en maklik kwaad word, sodat ek daardie dinge aan U kan oorgee en U toelaat om daardie eienskappe deur u onbaatsugtige liefde te vervang. Herskep my in iemand wat ander liefhet net soos U my liefhet. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Vreugde

Vader, dankie dat U my voortdurende toegang tot u teenwoordigheid gee. Omdat U altyd by my is, kan ek te alle tye ware vreugde ervaar. Alhoewel die vreugde wat U gee nie van my omstandighede afhanklik is nie, leef ek nie altyd ‘n lewe wat deur vreugde gekenmerk word nie. In plaas daarvan om U te vertrou, laat ek my probleme alte dikwels toe om my reaksies te dikteer. Vergewe my asseblief! Vul my met u vreugde en vrede, sodat ek deur die krag van u Heilige Gees te alle tye vol hoop kan wees. Help my om ‘n lewe te lei wat gekenmerk word deur onoorwinlike vreugde. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed vir Vrede

Vader, dikwels word ek oorweldig deur omstandighede wat buite my beheer is, en my aandag word maklik afgelei deur dinge wat nie saak maak nie. Vergewe my dat ek nie deurgaans op U vertrou nie. Selfs as ek voor moeilike situasies te staan kom, is U steeds by my. U is die Skepper van vrede, en ek kan tot u vredevolle teenwoordigheid toegang verkry wanneer ek tot U nader. In plaas daarvan om u Heilige Gees stil te maak wanneer ek angstig of moedeloos begin voel, help my om eerder in my hart en gedagtes ruimte te maak om die vrede te ervaar wat U vryelik gee. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Geduld

Heilige Gees, skep in my ‘n rein hart wat die beste in ander soek. Help my om empatie en medelye aan almal te betoon, en om dit met sagmoedigheid en respek te doen. As mense of omstandighede nie aan my verwagtinge voldoen nie, bemagtig my dan om genade en begrip te bewys. Help my om my omstandighede vanuit u perspektief te sien, sodat ek my te alle tye kan verheug en geduld kan betoon wanneer dit nodig is. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Vriendelikheid

Vader, dankie dat U voortdurend u standvastige liefde en genade aan my betoon. U is so goed! Here, ek word maklik kwaad, voel seergemaak of neem aanstoot. Verander asseblief hoe ek dink en optree. Dit is deur u Gees wat ek vergewe en bemagtig word. Ek nooi U dus vandag uit om my te lei, te rig en te wys hoe om vriendelikheid aan ander te betoon soos U vriendelikheid aan my betoon het. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Goedhartigheid

Heilige Gees, ek kan nie van u teenwoordigheid ontsnap nie! U sal nie van my afstand doen nie, want U is te goedhartig om my te verlaat in die toestand wat U my gevind het. U lei my, gee my raad en wys my die weg wat na die lewe lei. Maak my vandag meer bewus van u goedhartigheid, sodat ek u goedhartigheid met ander kan deel. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Selfbeheersing

Heilige Gees, mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees! Ek wil U nie bedroef deur ‘n lewe te lei wat onwaardig is vir die roeping wat U in my lewe geplaas het nie. In plaas daarvan wil ek ‘n gedissiplineerde, bedagsame lewe lei, want ek weet dat dit U eer. As ek dus in die versoeking kom om toe te gee aan woede, selfsug of trots, help my om ander hoër te ag, en laat my toe om dit in nederigheid en genade te doen. Ek gee beheer oor my lewe aan U oor. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Getrouheid

Vader, op die regte tyd maak U alles pragtig. Niks is vir U te moeilik om te bewerkstellig nie! U is getrou om u beloftes na te kom. Tog vergeet ek dit dikwels en raak moedeloos as dit lyk asof my omstandighede nie verander nie. In daardie oomblikke is dit maklik om te vergeet dat U nie met u werk klaar is nie. Verander asseblief deur u Heilige Gees hoe ek dink en optree. As ek begin moeg word, help my om te onthou dat U by my is, U is getrou en U het my alles gegee wat ek nodig het om vandag ‘n geloofsvervulde lewe te lei. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

‘n Gebed om Nederigheid

Heilige Gees, help my om noukeurig aandag te skenk aan die maniere waarop U my by die naam roep en my nader aan U bring. Terwyl U dit doen, wys my hoe om op ‘n wyse te leef wat die roeping waardig is wat U aan my gegee het. Help my om niks uit selfsugtige ambisie te doen nie, maar wys my eerder hoe om ander hoër te ag as myself. In plaas daarvan om dadelik die foute wat ek by ander mense sien, reg te stel, help my om eers my besorgdhede na U toe bring en U toe te laat om my reaksie te rig. Laat die gesprekke wat ek met ander voer, gevul wees met nederigheid en respek, sodat niks in my lewe mense daarvan weerhou om U deur my te sien nie. In die Naam van Jesus, amen.

Stoor in jou Gebedslys

Het hierdie gebede jou bemoedig of geïnspireer? Stoor ‘n paar in jou YouVersion-gebedslys. Gaan gedurende die week voort om doelbewus deur gebed nader aan God te kom, en laat sy Heilige Gees toe om jou lewenswyse te vorm.

FacebookDeel op Facebook

TwitterDeel op Twitter

E-posDeel per e-pos

Laai Die YouVersion Bybeltoep

Die plasing is ook beskikbaar is: Engels Indonesies Duits Spaans Filippyns (Tagalog) (Tagalog) Frans Italiaans Hollands Portugees Roemeens Russies Japanees Chinees (Vereenvoudig) Chinees (Traditioneel) Koreaans Pools Viëtnamees