Wie is die Heilige Gees?

Duif

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.”

GENESIS 1:1-2

Stel jou voor God se Gees sweef oor die aarde. Alles is donker en sonder vorm, totdat God hierdie woorde uitspreek: “Laat daar lig wees.” Oombliklik verander alles. Die lig breek deur die duisternis en wat onsigbaar was is nou duidelik sigbaar. Dit is wat God se Gees doen. Hy is altyd naby, by ons, en bring lig waar daar eens op ‘n tyd duisternis was.

Hy was by Moses toe hy die Israeliete deur die woestyn gelei het. Hy was by Dawid om hom te bemagtig om Goliat te verslaan. Hy was by die profeet Jesaja om hom die woorde te gee om oor Jesus se koms te profeteer. Hy was by Jesus om Hom as God se Seun te onderskei. God se Heilige Gees is nog steeds hier. Nou kan enigeen wat in Jesus glo die innige teenwoordigheid van die Heilige Gees ervaar.

Wat beteken dit nou eintlik? Hoe is dit om die Heilige Gees te ervaar?

Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.”

HANDELINGE 2: 38

Regdeur die Skrif is daar bewyse dat die Heilige Gees sekere mense bemagtig het om deel te wees van God se planne en ander aan sy doel te herinner. Jesus se offerdood en wonderbaarlike opstanding het egter alles verander. Vir die eerste keer in die geskiedenis kon enigeen wat verkies om in Jesus te glo, die Heilige Gees ontvang.

“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

JOHANNES 14:16-17

Die gawe van die Heilige Gees is nog steeds beskikbaar vir elkeen wat in Jesus glo. Wanneer jy hierdie gawe ontvang, bemagtig God jou om so te lewe dat jy Hom eer en sy karakter weerspieël. In wese is dit so dat, wanneer ons nader aan God kom, raak ons meer bewus van sy teenwoordigheid en krag in ons lewens. Dit beteken dat ons selfs in ons moeilikste tye nooit werklik alleen is nie. Die Heilige Gees is nader aan jou as jou eie asem.

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.

ROMEINE 8:26

Ongeag jou omstandighede of agtergrond, as jy aan Christus behoort is sy Heilige Gees altyd by jou om jou te bemagtig en te versterk, en ook om namens jou te bid. Hy verstaan jou behoeftes omdat Hy jou ken.

Omdat God jou ken is Hy altyd namens jou aan die werk tot jou voordeel en sy eer. Dit beteken nie dat jy geen lyding en moeilikhede sal ondervind nie. Dit beteken dat God, deur die krag van sy Heilige Gees, te midde van daardie beproewing, jou nader aan Homself sal trek.

Selfs wanneer jy uiters swak is, is daar niks wat God nie deur die Heilige Gees wat in jou woon, kan doen nie.

“Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee. … Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.”

Esegiël 36: 26-27

Jy is nooit ver van God se teenwoordigheid af nie. Wanneer jy besluit om Jesus as die opgestane Seun van God te aanvaar, kry jy al die voordele wat daarmee saamgaan — insluitende die Heilige Gees wat altyd by jou is.

Dink ‘n oomblik diep na oor die volgende vrae:

  • Glo ek dat Jesus God is?

  • Het ek Jesus gevra om my lewe te verander?

As jy op altwee vrae “ja” kan antwoord, het jy toegang tot God se Heilige Gees. Om toegang tot God te hê en om saam met Hom deur die lewe te gaan, is egter twee verskillende goed.

Wanneer ons God in liefde gehoorsaam en Jesus as Here oor ons lewens erken, laat ons die Heilige Gees toe om vrylik in ons lewens te werk. Daarom moet jy God elke dag doelbewus opsoek wanneer jy ‘n Geesvervulde lewe lei.

Dis deur doelbewuste tyd saam met God wat jy ontdek hoe om Hom lief te hê, ander lief te hê en dissipels te maak. Jy word vertroud met die krag, teenwoordigheid en outoriteit van die Heilige Gees namate jy God se karakter beter leer ken. Dit is ook deur die krag van die Heilige Gees dat jy bewus word hoe jou dade en keuses jou verhouding met God en ander mense beïnvloed.

“’Die Here’ beteken hier ‘die Gees’, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

2 KORINTIËRS 3:17-18

In werklikheid is die Heilige Gees beskikbaar vir enigeen wat ‘n volgeling van Christus word en Hy wil jou bemagtig om so te lewe dat jy God se roeping vir jou lewe waardig is.

Indien jy wil uitvind hoe om ‘n Geesvervulde lewe te lei — ‘n lewe wat God eer en mense inspireer — maak tyd om Galasiërs 5:22-23 te lees. Wanneer jy dan gereed is, bid deur die vrug van die Gees in hierdie webjoernaal-inskrywing.

Bid deur die vrug van die Gees

FacebookDeel op Facebook

TwitterDeel op Twitter

E-posDeel per e-pos

Die plasing is ook beskikbaar is: Engels Indonesies Duits Spaans Filippyns (Tagalog) (Tagalog) Frans Italiaans Hollands Portugees Roemeens Russies Japanees Chinees (Vereenvoudig) Chinees (Traditioneel) Koreaans Pools Viëtnamees