Vyf Gebede om Geestelike te Groei

Persoon wat bid

Wat behels geestelike groei?

Gesonde verhoudings vereis harde werk, goeie gewoontes en tyd wat saam deurgebring word. Dis hoekom ons elke dag nader aan God moet kom om geestelik volwasse te word.

Hier onder is vyf gebede wat op verskillende maniere daarop fokus om tot God te nader. Nadat jy daardeur gelees het, kies een om hierdie week op te fokus en laat God toe om jou in ‘n nuwe mens te verander, deur jou denke te vernuwe.


‘n Gebed om Vrygewig te Leef

Hemelse Vader,

sonder U het ek niks nie. Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van U, maar soms sien ek u geskenke aan my as iets wat ek verdien. Soms kom ek in die versoeking om my rykdom, tyd en hulpbronne op te gaar, in plaas daarvan om dit met ander te deel. Eintlik weet ek dat ek geseën word om ‘n seën vir ander te wees. Help my asseblief om ‘n goeie rentmeester te wees van die gawes wat U aan my toevertrou het. Verander my in iemand wat mildelik lewe en uitdeel.

In die Naam van Jesus,
Amen.

Stoor Gebed


‘n Gebed vir Rus

Hemelse Vader,

in ‘n wêreld waar dit opgehemel word om besig te wees, is dit maklik om tyd te verspil op dinge wat nie saak maak nie. As ek nie versigtig is nie, kan ek afgestomp raak of myself uitbrand omdat ek nie genoeg ruimte laat om elke dag in u teenwoordigheid rus te vind nie. Ek het u hulp nodig om my denke en lewe te verander. Ek het u hulp nodig om tyd te maak om te rus. Help my om U elke dag op te soek. Ek wil net by U wees.

In die Naam van Jesus,
Amen.

Stoor Gebed


‘n Gebed om die Woord van God te Lees

Hemelse Vader,

baie dankie dat U vir my die paaie wys wat na die lewe lei. Ek is baie dankbaar dat ek vir ewig vreugde in u teenwoordigheid kan vind! Help my om waardig te leef ooreenkomstig U roeping vir my, deur tyd aan u Woord te wy. Ek wil nooit vergeet dat toegang tot die Skrif ‘n geskenk is nie. Maak my dus gretig om u woorde te lees. Openbaar u wil aan my terwyl ek tyd in u teenwoordigheid deurbring. Leer my u Woord, wat die waarheid is.

In die Naam van Jesus,
Amen.

Stoor Gebed


‘n Gebed vir Diensbaarheid

Hemelse Vader,

U is so vriendelik teenoor my. Toe U nie u eie Seun gespaar het om ons te red nie, het U vir my ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid gestel. Dankie dat U vir my wys wat dienende leierskap is. Help my om u wil te soek in plaas van my eie. Ek wil U dien, deur ander te dien. Verander dus my hart en help my om ander waarlik lief te hê. Vorm my in iemand wat ander hoër ag as homself.

In die Naam van Jesus,
Amen.

Stoor Gebed


‘n Gebed om met God te praat

Hemelse Vader,

soms voel dit vir my of ek nie woorde het om te bid nie. Ek weet nie altyd wat om vir U te sê nie. Wat sê ek vir Iemand wat in elke opsig volmaak is? Help my om te onthou dat U graag van my wil hoor. Gee my die selfvertroue om my hart teenoor U oop te maak, maar op ‘n respekvolle wyse. Laat hierdie openhartige gesprekke my asseblief na ‘n dieper sin van ontsag, bewondering, en liefde vir U lei. Leer my hoe om met U te praat en maak my dan gretig om dit elke dag te doen.

In die Naam van Jesus,
Amen.

Stoor Gebed

Die plasing is ook beskikbaar is: Engels Indonesies Duits Spaans Filippyns (Tagalog) (Tagalog) Frans Italiaans Hollands Portugees Roemeens Russies Japanees Chinees (Vereenvoudig) Chinees (Traditioneel) Koreaans Pools Viëtnamees