Drie Bemoedigende Waarhede om te Onthou as die Lewe Moeilik Raak…


Dink aan die dissipels wat saam met Jesus in ‘n boot was toe ‘n lewensgevaarlike storm opsteek. Hulle is onvoorbereid daarvoor, is paniekerig en besef dat hulle kan doodgaan. Terwyl dit gebeur, is Jesus rustig aan die slaap.

In plaas daarvan om na Jesus se reaksie op hul omstandigheid te kyk, laat die dissipels toe dat die omstandigheid hulle reaksie bepaal.

Nadat hulle Jesus gesmeek het om iets te doen, laat Hy die storm bedaar… maar nie voor Hy vra: “Hoekom is julle bang?” nie.

Sy sagte teregwysing oor hul gebrek aan geloof was nie omdat hulle nie geglo het Jesus kan hulle van die storm red nie, maar omdat hulle gesukkel het om te glo dat Hy hulle daardeur sou neem.

Hoe reageer ons met geloof as ons in storms beland wat ons nie kan beheer nie? Hier is drie bemoedigende waarhede om te onthou:

1. God het mag oor elke storm.

As die wind en die golwe Hom nie bekommer nie, moet hulle jou ook nie bang maak nie. Miskien kan jy nie jou omstandigheid verander nie, maar jy kan kies om God te midde daarvan te vertrou.

2. As jy jou oë op Jesus vestig, lei dit tot vrede.

Kyk jy na die grootte van die storm, of keer jy jou na die Een wat dit kan kalmeer? Jy kan slegs met die hulp van God, wat elke uitkoms ken, deur elke situasie met sy wysheid en vrede kom.

3. Jesus is altyd in jou boot.

Dit is maklik om op jou vrese te fokus as jy nie jou toekoms kan beheer nie. Maar gelukkig ken Jesus jou toekoms, en Hy is altyd by jou. Hy roep jou om deur geloof te leef, nie deur sien nie.

Jy het altyd twee keuses as die lewe jou oorweldig: jy kan op jou omstandighede fokus, of jou oë op Jesus rig.

As jy kies om bo alles na Jesus te kyk, sal jy begin sien dat die storms wat jou in die gesig staar nie naastenby so kragtig is as die Verlosser wat kies om saam met jou deur die storm te loop nie.

Oordink God se Woord

Die plasing is ook beskikbaar is: Engels Indonesies Duits Spaans Filippyns (Tagalog) (Tagalog) Frans Italiaans Hollands Portugees Roemeens Russies Japanees Chinees (Vereenvoudig) Chinees (Traditioneel) Koreaans