Hoe deel jy jou geloof?

Vriende wat op 'n hoë gebou staan

Dink aan ‘n vriend, ‘n buurman, ‘n familielid of ‘n kollega wat nie ‘n hegte verhouding met Jesus het nie. Hoe sou jy jou geloof met hulle deel?

Matteus 28: 18-20, ook bekend as “Die Sendingopdrag”, is ‘n uitstekende plek om te begin:

Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

MATTEUS 28:18-20

In die oorspronklike Grieks is die uitdrukking “maak dissipels” eintlik ‘n opdrag om “dissipels” te maak. Dit is nie ‘n voorstel wat Jesus maak nie — dit is ‘n dringende, deurlopende opdrag en die spil waarom die sendingopdrag draai.

Hier is drie maniere hoe ons dissipels van ander mense kan maak as ons die sendingopdrag in ons lewens toepas:

  1. Gaan

  2. Die oorspronklike Griekse woord vir “gaan”, veronderstel ‘n voortdurende aksie. Dit is nie noodwendig ‘n opdrag om jou werk of huis te verlaat en met vreemdelinge te redeneer nie.

    Hierdie werkwoord verwys eerder daarna dat ons dissipels van ander mense maak deur verhoudings te ontwikkel met diegene met wie ons elke dag te doen kry — die mense by ons werk, in ons skole en selfs in die kruidenierswinkel. Eintlik sê Jesus: “Lei en leer mense om my te volg terwyl jy met jou daaglikse lewe voortgaan.”

    Voordat jy verder gaan, is dit belangrik om daarop te wys dat “gaan” nie altyd beteken ons hoef ons land te verlaat nie. Alhoewel Jesus sy volgelinge oproep om dissipels “van alle nasies” te maak, het Jesus ook met Joodse dissipels gepraat wat vermy het om met ander etniese groepe om te gaan. Sy bevel sou hulle uitgedaag het om uit te reik na Romeinse oorwinnaars, Ethiopiese reisigers en Samaritaanse bure in hul eie stad, sowel as in die buiteland.

    Met ander woorde, Jesus het hulle gewys dat die Christendom nie eksklusief vir een ras, etnisiteit of land is nie — dit is vir alle mense. Altyd. Die mense met wie ons elke dag verkeer, is gewoonlik die mense wat God ons dringend vra om te bereik.

    Wie het God dus om jou geplaas, en hoe kan jy vandag na hulle uitreik?

    Wenk: Begin deur ‘n bemoedigende versbeeld met iemand te deel, of vra iemand waarvoor jy vir hulle kan bid, en voeg dan hul versoeke by jou YouVersion Gebedslys.

  3. Doop

  4. Waaraan dink jy as jy die woord “doop” hoor? As jy gesê het “iemand in die water dompel”, is jy nie verkeerd nie! Maar die doel van die doop is om ‘n innerlike verandering van hart op ‘n fisieke wyse uit te druk. Dit is beide ‘n simboliese uitdrukking van geloof en ‘n daad van gehoorsame oorgawe en berou. Daarom is dit die logiese volgende stap wat iemand neem nadat hulle besluit het om in Christus te glo en Hom te volg.

    Ons kan mense help om hierdie stap te neem deur openhartige gesprekke met hulle te voer oor wat dit beteken om Jesus te volg, hulle vrae oor God te beantwoord en hulle dan uit te nooi om tot die fisieke daad oor te gaan.

    Die doop is van belang, want dit is iets wat Jesus gedoen het, en Hy het ook sy dissipels beveel om ander te doop. As ons dus gedoop word, leef ons soos Jesus en gehoorsaam ons Hom. Hierdie openbare handeling stel ons in staat om ons met Christus se dood en opstanding te vereenselwig, ons te bekeer van die manier waarop ons geleef het, en die nuwe, ewige lewe wat ons het, as gevolg van Jesus se offer, te vier.

    Wenk: Hou hierdie paar vrae in gedagte terwyl jy verhoudings bou met mense wat daaraan dink om gedoop te word …

    • Glo jy dat jy Jesus nodig het?
    • Wat beteken dit vir jou om in Jesus te glo?
    • Glo jy Jesus het vir jou gesterf en weer opgestaan?
    • Wat behels dit om Jesus te volg?
    • Hoe het jy God gevra om jou te vergewe vir die foute wat jy in die verlede gemaak het?
    • Het jy Jesus in jou lewe ingenooi?
  5. Onderrig

  6. Om iemand te onderrig, is ‘n tweeledige proses: dit behels die oordrag van idees en die volgehoue voorbeeld van die dinge wat ons oorgedra het. Dit hoef nie formeel te wees nie, en volgens die sendingopdrag gebeur dit dikwels wanneer ons getuig en iemand doop.

    Die belangrikste ding om in gedagte te hou, is dat ons nie van mense kan verwag om te doen wat Jesus ons beveel het, tensy ons self ook sy opdragte nakom nie.

    Wil ons hê mense moet God se liefde leer ken? Dan moet ons God se liefde aan mense betoon. Wil ons hê mense moet van Jesus se medelye leer? Dan moet ons medelye toon. Wil ons hê mense moet mildelik gee? Dan moet ons goeie rentmeesters van ons geld wees. Wil ons hê mense moet God se Woord bestudeer? Dan moet ons dit self bestudeer.

    Stel ‘n voorbeeld van wat dit beteken om ‘n dissipel te wees, deur iemand te nooi om saam met jou te bid en God se Woord te bestudeer. Wys hulle hoe jy jou finansies bestuur en jou alledaagse lewe lei.

    Wenk: Oorweeg om iemand uit te nooi om ‘n leesplan saam met jou te voltooi. Druk op die skakel hieronder om leesplanne te soek.

Kyk na Leesplanne

Dis nie ons uiteindelike doel om mense te dwing om Jesus te volg nie — net God kan iemand se lewe verander. Ons kan egter elke dag doelgerig lewe en op die uitkyk wees vir mense met wie ons ‘n verhouding kan aanknoop en wys wat dit beteken om God te ken en Hom aan hulle bekendstel. Om jou geloof te deel, beteken ook om jou lewe te deel. Wanneer ons dit doen, sal geleenthede opduik om dissipels te maak.

Wil jy meer te wete kom oor wat dit beteken om Jesus te volg?

Hier is drie Skrifgedeeltes wat jou daarmee kan help.

FacebookDeel op Facebook

TwitterDeel op Twitter

E-posDeel per e-pos

Die plasing is ook beskikbaar is: Engels Indonesies Duits Spaans Filippyns (Tagalog) (Tagalog) Frans Italiaans Hollands Portugees Roemeens Russies Japanees Chinees (Vereenvoudig) Chinees (Traditioneel) Koreaans Pools Viëtnamees